Gedurende die laat 17de en vroee 18 de eeu was daar baie Pioniersbedrywighede in die Klein Karoo. Veeboere het hul pad gevind oor die Outeniqua- en Langeberge en ‘n ware Eden ontdek. Die plaas waar Wilgewandel Vakansieplaas geleë is, was beskou as een van die gesogste plase onder Pioniers, veral wat weiding en water-voorsiening betref. So het die eerste pionier veeboer, Hermanus Steyn alreeds in 1760 sy permanente staanplek hier gemaak. Hy het die plaas genoem ‘Kombuys aan de Cango’(Kombuis van die Kango Vallei).
Twintig jaar later, in 1780, het nog ‘n veeboer pionier en padbouer, Jacobus Van Zyl, ‘n ingang na ‘n grot ontdek aan die westelike hoek van die plaas. Hierdie grot was die ingang van die wêreldbekende Kango Grotte. Van Zyl se ontdekking het gelei tot ‘n era van sosiale en ekonomiese vooruitgang in die Klein Karoo. Die plaas ‘Kombuis van die Kango’ wat later ‘Grootkraal’ geheet het, het sentraal gestaan in hierdie ekonomiese opbloei. Vandag vorm hierdie plaas die poort na die wêreldbekende Kango Grotte.
Die oorspronklike opstal wat vandag nog bestaan, het die eerste gids van die Grotte, Johnny van Wasssenaar(1880) en die eerste bestuurder Herman van der Veen, gehuisves.
Die huidige eienaars, George en Linda Muller, het die opstal en die hele vakansieplaas gerestoureer om sodoende sy glans van ‘n bekende verlede te behou. Kom deel in al die opwinding van ‘n romantieke verlede.
|